Kontakbesonderhede

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Van Rooy-Skaaptelersvereniging Konstitusie

 1. Naam

Die naam van die vereniging sal wees: “Die Van Rooy-Skaaptelersvereniging”

2. Doel

Die doel van die vereniging sal wees:

  • Die stigting van ‘n gesaghebbende liggaam, verteenwoordigend van die Van Rooy-Skaap telers van Suid-Afrika, om die belange van die Van Rooy-Skaap industrie te bevorder.
  • Die aanmoediging tot verbetering en suiwer hou van die ras van skape as vleisras onder landsomstandighede.
  • Die ondersoek en die opstel van die Geskiedenis van die ras van skape in die algemeen, en ook van die individuele kuddes; asook om die tipe suiwerheid van die kudde te bepaal.
  • Die aanstelling of aanbevelings vir aanstelling van beoordelaars op tentoonstellings, en om stappe te doen om die bekwaamheid van aangestelde of aanbevole beoordelaars te toets.
  • Die beskerming van die belange van verkopers en kopers deur die ontmoediging van die koop van skape wat nie suiwer bloed is, en nie geskik is vir teeldoeleindes nie.
  • Die vraagstukke rakende die belange van die Van Rooy-Skaap telers te behandel, en die nodige stappe in verband daarmee te doen.

3. Lidmaatskap

  • Enige bona fide teler van Van Rooy-Skape mag lid word van die vereniging, en mag lid bly solank hy die bepalings van die Konstitusie en die besluite van die vereniging nakom.
  • Erelede wat andersins nie op lidmaatskap geregtig is nie, mag benoem word op Vergaderings van die Vereniging. Sulke erelede mag praat op vergaderings, maar sal geen stemreg hê nie.
  • Bedanking: Lede kan alleen bedank deur hulle bedanking skriftelik aan die Sekretaris te rig, minstens drie maande voor die einde van die Finansiële jaar op 28 Februarie. Hulle bly nogtans verantwoordelik aan die vereniging vir agterstallige subskripsies, of enige ander verpligting wat nog op hulle mag rus.

4. Bestuur

  • Die beheer van die vereniging sal berus by ‘n bestuur wat bestaan uit: ‘n President en ‘n Vise President, ‘n Sekretaris, en  drie addisionele lede.
  • Die bestuur sal verkies word op elke jaarvergadering.  Aftredende lede sal herkiesbaar wees.
  • Vier bestuurslede sal ‘n kworum vorm by ‘n bestuursvergadering. Die bestuurslede sal die reg hê om vakatures aan te vul op die Bestuur indien dit nodig mag wees.

Mag van Bestuur:

  • Om bywette vir die bestuur rakende die sake van die vereniging te maak, te wysig of te verwerp, onderhewig aan die goedkeuring van ‘n vergadering van twee derde van die lede.
  • Om ‘n inspekteur of inspekteurs, en ander sodanige beamptes as wat mag nodig wees, vir die uitvoer van die werk van die vereniging aan te stel of te ontslaan, en te reël vir vergoeding vir hulle dienste mits sodanige vergoeding nie die finansies van die vereniging te bowe gaan nie.
  • Om die voorwaardes vas te stel waaronder skape vir registrasie sal aangeneem word, asook die gelde vir inspeksie en registrasie van sodanige skape, en om reëlings te tref vir die inskrywing van skape in die Suid-Afrikaanse Stamboek.
  • Om in die algemeen sake te verrig in belang van welvaart van die vereniging en die beheer van sy sake, mits hulle handelswyse in ooreenstemming is met die reëls.

Vergaderings:

  • Die Bestuur sal jaarliks ‘n vergadering van lede van die vereniging op ‘n sentrale plek belê, binne drie maande na 28 Februarie. Die Voorsitter sal te enige tyd so ‘n vergadering kan belê op ‘n skriftelike versoek van een derde van die lede van die  vereniging. Bestuursvergaderings kan deur die voorsitter van die  vereniging belê word, en ook op versoek van twee lede van die  Bestuur. Die voorsitter sal in albei gevalle alleenlik ‘n beslissende stem hê op die vergadering. By die afwesigheid van die Voorsitter en die Vise-Voorsitter sal die vergadering ‘n tydelike Voorsitter kies.

5. Finansies

Alle gelde ontvang vir die vereniging sal onder sorg wees van die hulp sekretaris, wat jaarliks op die jaarvergadering van die vereniging verslag sal doen van die finansiële posisie van die vereniging. AI die fondse van die vereniging sal onder die beheer aan die Bestuur staan. Die voorsitter en die sekretaris sal die tjeks teken.

6. Verandering van Konstitusie en Punteskaal

Veranderings in die konstitusie en die punteskaal van die vereniging kan alleen gemaak word op die Algemene Jaarvergadering, waar die helfte plus een van die lede se stemme uitgebring word, mits kennis van so ‘n voorstel aan die sekretaris gegee word minstens drie maande voor die einde van die finansiële jaar, en kennis deur die sekretaris aan die lede gegee word van so ‘n voorstel nie minder as een maand voor die vergadering.

Ons Jongste Artikels