Geskiedenis en Ontwikkeling van die Van Rooy-Skaap
In 1906 het Senator Johannes Cornelis van Rooy van die plaas Koppieskraal, distrik Van Rooy Skaapras Geskiedenis Bethulie, begin met proefnemings om ‘n nuwe ras te teel vir slaglam produksie.
Hierdie ras moes aan drie vereistes voldoen nl.: die ras moes gehard wees om die gereelde droogtes te kon weerstaan; die ras moes vrugbaar wees sodat ‘n hoë produksie gehandhaaf kon word; en die ras moes ‘n goeie vleisbouvorm hê.
Vir hierdie doel het hy gebruik gemaak van ‘n wit Blinkhaar Afrikaner ram en tagtig Rambouillet ooie. Met die nageslag hiervan, is inteling gedoen en baie streng seleksie is toegepas. Daar is veral geselekteer vir grootte, bouvorm en ‘n wit skaap met genoeg wol tussen die steekhaar om as bedekking teen koue te dien. Senator Van Rooy het besef dat hy nie heeltemal met die vet lokalisasie op die stert kon wegdoen, sonder om gehardheid en vrugbaarheid in te boet nie. Daar is toe gepoog om ‘n goeie bouvorm te kry met so min vet lokalisasie op die lyf as moontlik, en slegs ‘n matige lokalisasie op die kruis. Later is ook ‘n Poenskop Wensleydale ram ingebring om die vleisbouvorm verder te probeer verbeter. Hierdie ram is na die driejarige Boereoorlog deur die Engelse regering na Suid-Afrika gestuur om te help met die heropbou en verbetering van Suid-Afrikaanse skaapkuddes. Hieruit het toe die Van Rooy-skaap ras ontstaan en, alhoewel die skaap vandag al baie verbeter is, voldoen dit nog aan al die basiese vereistes wat destyds gestel is, en is al die belangrike eienskappe behou en word daar nog steeds voort geteel en geselekteer.
In die Suid-en Suidwes Vrystaat en Noord-Oostelike distrikte van Kaapland het hierdie skape gou inslag gevind en het die boere op groot skaal van Van Rooy-ramme gebruik begin maak. Slegs ‘n paar boere kon egter Van Rooy-ooie by Senator Van Rooy te koop kry. Hulle het dan hierdie skape suiwer gehou, terwyl baie ander boere noodgedwonge van ander inheemse rasse gebruik moes maak om hul teeldiere van te teel. Hiervoor is veral van Swartkop Persies en Blinkhaar Afrikaners gebruik gemaak.
Die verdere ontwikkeling van die ras oor die jare sedert sy ontstaan in 1906, is op verskillende tye deur verskillende faktore gestrem. In 1914 toe die ras nog in sy begin stadium van sy ontwikkeling was, het die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek en die stremmende invloed wat hierdie vyf jaar op die ontwikkeling van die ras gehad het, kan nie te gering geskat word nie.
Na die Eerste Wêreldoorlog het die getalle van Van Rooy-skape vinnig begin toeneem, maar toe het die moeilike dertigerjare gevolg, asook die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog aan die einde van die dertigerjare. Hierdie faktore het weer ‘n stremmende uitwerking op die vermeerdering van getalle, en veral op die verbetering van bouvorm, gehad.
Na die Tweede Wêreldoorlog het die gewildheid van die ras baie toegeneem, totdat die hoë wolpryse in 1948 gekom het, wat baie boere laat oorslaan het na die Merino. In hierdie tyd het die groot propaganda ontstaan om weg te doen met die oortollige vet op die karkas van slagskape. Hierdie twee faktore het nie net die ontwikkeling van die ras gestrem nie, maar ook die getalle drasties laat verminder. In dieselfde tyd het Namibiese boere Van Rooy-ooie begin aankoop vir Karakoelteelt. Hulle het hoë pryse betaal, en het gevolglik gewillige verkopers gevind wat wou oorslaan na die Merino of nie-vetstert tipe skape. Hierdie ooie wat so aangekoop is, het vir die ras verlore gegaan omdat daar nie verder met hulle geteel is nie. Daar is ‘n geval bekend waar een boer van Namibia in een maand 30 000 Van Rooy-ooie in die Suidwes Vrystaat gekoop het, en hierdie ooie is almal na Namibia vir Karakoelteelt.
Die gewildheid van die ras het die afgelope jare weer begin toeneem, en veral na die afgelope aantal droogte jare is die aanvraag vir Van Rooy-skape nou besonder goed. Nog ‘n rede vir die toename in aanvraag is ook die geweldige verbetering in vleisbouvorm, wat deur lede van die Van Rooy-Skaap telersvereniging in die laaste paar jaar bereik is.