Kontakbesonderhede

Generic selectors
Exact matches only
Search in title
Search in content
Post Type Selectors

Van Rooy-Skaaptelersvereniging

Op 5 Desember 1947 het ‘n aantal telers van Van Rooy-skape op Colesberg bymekaargekom en onder voorsitterskap van Mnr. M.A. du Plessis van Steynsburg, is die Van Rooy-Skaap telersvereniging gestig. Hierdie Vereniging is gestig om te waak oor die ontwikkeling en belange van die Van Rooy-Skaap.

Met die hoë wolpryse wat kort hierna gevolg het, het baie boere belang verloor en het die Vereniging sy laaste vergadering gehou op 3 November 1950. Hierna het die Vereniging doodgeloop en vir ‘n aantal jare was dit onaktief.

Op 12 Oktober 1960 is egter weer ‘n vergadering gehou op Philippolis, en is die Vereniging herstig onder voorsitterskap van Mnr. N.L. Steyn van Colesberg. Hierdie Vereniging bestaan vandag nog en groei jaar na jaar. Die Vereniging lewer al hoe meer noodsaaklike dienste aan sy lede, en ook aan ander Van Rooy boere of voornemende boere.

Die Vereniging beywer hom vir die verbetering van die Van Rooy-Skaap en derhalwe het dit ‘n inspeksie diens waaronder belangstellende boere se skape deur inspekteurs van die Vereniging geïnspekteer of gekeur word. Stoetskape word vir identifikasie in die regteroor getatoeëer. Voornemende Van Rooy boere kan ook deur die Vereniging skape aankoop en sodoende seker maak dat hulle gekeurde ras-egte diere bekom. Elke twee jaar word ‘n Nasionale Kampioenskapskou gehou onder beskerming van die Van Rooy-Skaap telersvereniging. Die verbetering in die gehalte van die diere kan hier baie duidelik waargeneem word. Tans organiseer die Vereniging ook ‘n jaarlikse ram-en ooi veiling van gekeurde diere. Ook word van tyd tot tyd ‘n Van Rooy-Skaap dag gehou waarop die ras standaarde en punte toekennings verduidelik word. Ander interessante lesings van belang word ook by so ‘n dag ingesluit.

Die Van Rooy-Skaap telersvereniging wil van hierdie geleentheid gebruik maak om alle Van Rooy-Skaap telers uit te nooi om by die Vereniging aan te sluit en om ons te help om die ras verder uit te bou en te verbeter. Hulp en raad van alle belangstellendes kan met vrug gebruik word.

Ons Jongste Artikels