Van Rooy-Skaap as Ras
1. Gehardheid en Aanpasbaarheid
In Suid-Afrika is die klimaat nie altyd gunstig vir die skaapboer nie. Van tyd tot tyd kom droogtes voor, die voedingspeil van die veld wissel van seisoen tot seisoen, hoë temperature kom voor in die somermaande, lae temperature in die wintermaande en siektes en inwendige parasiete speel ook nog ‘n rol om die skaapboer se taak te bemoeilik. ‘n Skaapras wat sonder hulp al hierdie moeilikhede of hindernisse met welslae die hoof kan bied, bestaan net nie. Die gehardheid van ‘n ras is met ander woorde die mate waarin ‘n ras hierdie toestande met welslae kan trotseer. Hierin slaag die Van Rooy-Skaap in ‘n baie groot mate. Die Van Rooy kan droogtes met welslae die hoof bied, kan op min voeding klaarkom, groei en reproduseer. Onder ongunstige omstandighede suip die lam die Van Rooy-ooi, weens haar vetreserwe, nie so gou of soos by nie-vetstert tipes nie, en so ‘n ooi reproduseer dus weer makliker. Die ras kan hoë temperature baie goed weerstaan en het genoeg wolbedekking tussen die hare om koue ook te kan weerstaan.
Teen siektes is die ras baie bestand, en inwendige parasiete affekteer die ras nie so gou soos sekere ander rasse nie. As gevolg van sy dikker vel, is bosluisprobleme ook minder. Dit maak die ras minder vatbaar vir bosluisoordraagbare siektes. Hierdie laaste twee probleme is egter nie vanself heeltemal uitgeskakel nie, en die nodige voorsorg en behandeling moet nie agterweë gelaat word nie.
Daar is nie ‘n streek in Suid-Afrika en Namibië waar die Van Rooy-Skaap nie met welslae aangehou kan word nie. In die hoë reënval dele soos Oos-Kaapland, Natal en die Laeveld van Transvaal gedy die ras. In die Bosveld dele asook in die ander grasveld dele van Suid-Afrika doen die ras baie goed. In die droë dele waar die ras geteel en ontwikkel is, het hy homself al oor en oor bewys.
2. Vrugbaarheid
Vrugbaarheid is een van die kenmerke van die ras wat hom so gewild maak. Die ram is ‘n harde en flukse werker en selde of ooit kom dit voor dat ‘n Van Rooy-ram nie wil werk nie, of onvrugbaar is. Die ooi besit die eienskap dat sy ‘n onbeperkte geslag seisoen het, en gevolglik enige tyd van die jaar bronstig en beset raak. Vanweë die gehardheid en energie berging en onbeperkte geslag seisoen word die Van Rooy-ooi gevolglik gou na lamtyd weer bronstig, selfs onder die moeilikste omstandighede. Dit bring mee dat drie lammers in twee jaar by Van Rooy-Skape meer die reël as uitsondering is.
Die ooi is ook ‘n baie goeie moeder wat erg is oor haar lam en die melkproduksie is gewoonlik voldoende vir verlangde groei.
3. Vet verspreiding
By die Van Rooy-skaap word gepoog om ‘n skaap te teel met so min as moontlik vet lokalisasie op die karkas, behalwe op die kruis, en hier moet die stert ook nie te groot wees nie sodat dit nie funksionele doeltreffendheid belemmer nie. Hierdie vet lokalisasie op die stert of kruis is ‘n opberging van energie en hierdie energie berging verseker die ras van die belangrike gewenste eienskappe soos vrugbaarheid en gehardheid in ongunstige tye.
‘n Bietjie meer vet op die karkas as by nie-vetstert tipes word nogtans aangetref, maar dit het weer die voordeel dat in ongunstige klimaats-omstandighede word die minimum verlangde vet bedekking vir slagdoeleindes makliker op die karkas verkry en gevolglik kom die lam, wanneer weiding reeds beperk is, gouer van die veld af.
4. Kruisteling
Wanneer van kruisteling gebruik gemaak word vir slag produksie kan die Van Rooy nie geklop word as een van die rasse wat vir die kruising gebruik word nie. Wanneer die Van Rooy in kruising met enige nie-vetstert tipe skaap gebruik word, hetsy ram of ooi, kry jy op ‘n baie jonger ouderdom die gewenste vet bedekking op die karkas, as wanneer twee nie-vetstert tipes gebruik word. As gevolg van haar gereelde reproduksie, gehardheid en goeie moeder-eienskappe, is die Van Rooy-ooi baie gewild in ekstensiewe dele vir kruisteelt met die oog op slaglam produksie.
5. Bouvorm
Tot ‘n paar jaar gelede was die Van Rooy ras bekend as ‘n platsydige, langbeen skaap wat nie veel gewig gehad het nie. Vandag het die prentjie egter al verander, want die telers het geweldige vordering gemaak op die gebied van vleisbouvorm. Veral telers wat aan die Vereniging behoort het nou ‘n skaap wat voldoen aan die gewenste vleisbouvorm eienskappe, en dit is net bereik deur streng seleksie en deur die regte teelbeleid toe te pas. Die Van Rooy-Skaap van vandag het ‘n goeie vleisbouvorm en as die stert afgesny is, kan dit met die beste vergelyk word. Die vleis is ook van hoogstaande gehalte en baie smaaklik.
Deur ag te gee op die nodige punte van belang, het die Van Rooy-skaap telers vandag ‘n skaap met genoeg gewig, goeie bouvorm, en ‘n aantreklike karkas.
6. Ekonomie
Vir die boer wat slaglammers vir die vleismark wil teel onder huidige stygende produksie koste, bied die Van Rooy-Skaap verskeie voordele:
- Die ooi lam gereeld; ten minste drie maal in twee jaar en gevolglik word ‘n hoë lampersentasie gehandhaaf.
- Die ooi is baie gehard en aanpasbaar en byvoeding is selde of ooit nodig
- Alhoewel die karkas as vetstert tipe gradeer en die prys per kilogram gevolglik ietwat laer is, is die vel weer ‘n baie goeie handskoenvel wat weer ‘n hoë prys haal en gevolglik opmaak vir hierdie ietwat laer prys per kilogram. Die vel is as gevolg van sy harigheid ook minder onderhewig aan grassaad besmetting. (Baie boere sit die stertjie van hamel lammers kort na geboorte baie kort af, en gevolglik is daar geen vetstert wat gradering kan beïnvloed nie; by ooie word dit egter nooit gedoen nie omdat belangrike gewenste teel eienskappe dan verlore gaan.)
- Die skaap is in ‘n groot mate bestand teen inwendige parasiete en siektes, of die uitwerking daarvan, en gevolglik is arbeid en medisyne kostes baie minder. Die voorkoming en behandeling van hierdie euwels moet egter nie heeltemal agterweë gelaat word nie.
- In ‘n onlangse opname van ‘n studiegroep op ‘n Suid Vrystaatse dorp, wat van ‘n gekwalifiseerde rekenmeester gebruik maak, is na ontleding van die boere se boeke bevind dat die Van Rooy- Skaap die hoogste opbrengs per kleinvee eenheid van alle rasse gegee het, asook die hoogste opbrengs per hektaar of kapitale eenheid.
7. Knelpunte wat die ontwikkeling van die Van Rooy ras strem
Op die oomblik is die getalle van die ras relatief klein en gevolglik vind voornemende kopers of telers dit moeilik om genoeg skape van goeie gehalte te bekom.
Deurdat die Van Rooy-ooi so gereeld lam is dit moeilik om ‘n gewisselde ooi te kry wat nie óf ‘n lam het nie, óf nie swaar dragtig is nie. Hulle word nie maklik verkoop nie, en gevolglik bestaan die aanbod van teelmateriaal hoofsaaklik uit ongewisselde ooilammers wat nie altyd byval by voornemende kopers of telers vind nie.
‘n Van Rooy-ooi is baie vroeg geslagsryp en as daar nie opgepas of voorsorg getref word nie, lam sy voordat sy tweetand is. As dit gebeur ontwikkel sy gevolglik nie na behore nie en is dan nie altyd ‘n advertensie vir die ras nie. As ongewisselde ramme te swaar gebruik word, gebeur presies dieselfde.
Baie Van Rooy-ooie word in kruisings met nie-vetstert ramme of Karakoele gebruik en gevolglik is hulle verlore vir die ontwikkeling van die ras. In hierdie gevalle word die voordele van die ras soos gehardheid en hoë produktiwiteit ten volle besef en gebruik tot nadeel van die ras.