Die Van Rooy-Skaap puntestelsel en Rasbeskrywing
P | Pigment | H | Haarbedekking | S | Stert | K | Kop |
Be | Bene | B | Bouvorm | G | Grootte | T | Tipe |
P | H | S | K | Be | B | G | T |
5 | 5 | 5 | 5 | 5 | 5 | 5 | 5 |
1. Pigment
Pigment word op die ooglede van die skaap verlang. Die ooghare mag gekleurd wees. Vir stoet doeleindes word geen gekleurde hare op enige plek van die kop, lyf en bene toegelaat nie en pigment word op die kopvel toegelaat, mits die hare op sulke pigment kolle wit is. Gekleurde kolle en hare mag op die kop en ore van ‘n kuddedier voorkom mits die totale grootte nie groter is as 5mm in deursnee nie.
Die punte wat vir pigment toegeken word is vyf:
- pigment rondom albei oë op die ooglede – 5
- redelik pigment op albei oë – 4
- redelik pigment op een ooglid – 3
- min pigment op een ooglid – 2
- geen pigment – 1
‘n Blou of wit oog is ‘n prul. Vereiste vir Tipe 5, ten minste ‘n punt van 3.
2. Haarbedekking
Die Van Rooy-skaap is bedek met kort, wit kalkagtige haar. Aan die bolyf mag ‘n wollerige onder bedekking onder die haar aanwesig wees. Op die kop, bene en onderlyn moet die hare kort en sonder wol wees. Maanhaar is ‘n prul.
Die punte wat vir haarbedekking toegeken word, is uit vyf:
- ‘n kort wit kalkagtige haarbedekking met net genoeg wol onderlaag om as bedekking te dien teen koue – 5
- geringe afwykings van lengte, of haar en wol mengsel – 4
- groter afwykings van bogenoemde foute of wanneer boshare opgemerk word – 3
- oormatige afwyking van bogenoemde foute – 2
- duidelik sigbare of lang maanhare, oorwegend wolbedekking of syagtige blinkhaar – 1
3. Stert
Die stert bestaan uit twee dele nl. die hoofdeel en die sambokkie. Die hoofdeel moet breed, stewig en hoog aangeheg wees by die kruis. Die hoofdeel loop ovaalvormig na agter met ‘n effense opwaartse neiging op die punt waaraan die sambokkie loodreg afhang. Die sambokkie moet fyn wees met kort kalkagtige hare sonder enige wol. Die grootte van die stert moet in verhouding wees met die skaap.
Die punt vir die stert is uit vyf:
- ‘n stert wat aan bogenoemde beskrywing voldoen – 5
- ‘n effense breek by aanhegting, ‘n effense skewe stert, ‘n effense groot stert of wanneer ‘n klein gedeelte van die kaal vel onder die sambokkie sigbaar is – 4
- skewe sambokkie, dik sambokkie, ‘n effense gedraaide stert, ‘n stert met ‘n groot opwaartse neiging sodat te veel kaal vel sigbaar is, ‘n te groot of te klein stert – 3
- dieselfde foute as vir 3 punte, maar in ‘n groter mate, ‘n effense klap stert – 2
- ongewenste stert geoordeel aan bogenoemde foute in oortreffende trap – 1
4. Kop en Nek
Die kop moet goeie lengte, breedte en diepte hê, met ‘n sterk bek en tande wat goed op die bokaak pas. Ram en ooi wat nie anatomies reg wissel nie is ‘n prul. Breë, plat, goed gespasieerde tande is wenslik. Die oë groot en helder. Pigmentasie op kop soos onder pigment beskryf. Die neusgate langwerpig. Lang en breë (groot) ore is ‘n tipiese kenmerk van die ras. Die profiel van die ram se kop is effens gerond. Klein los horinkies mag by ramme voorkom. Vaste horingbasis is ‘n prul. Effense vet lokalisasie weerskante van die neusbene en agter die ore by ramme is ‘n kenmerk van die ras.
‘n Matige halfmaanvormige keelvel is ‘n vereiste. Die nek moet goed ontwikkeld wees en goed by die voorkwarte aansluit. Te kort nek is ‘n prul. Belle by die keel is ‘n prul.
5. Bouvorm
Voorkwart
Die bors moet diep en breed wees en moet soveel moontlik reghoekig na vore staan. Die blaaie moet goed gevleis wees en so ook die voorarm. Die bladknoppe moet wyd uitmekaar en prominent wees. Die skof moet breed (plat) wees en nie skerp nie.
Romp en Middellyf
Die rug lank, breed en reguit; moet goed by die skouers aansluit. Die lende breed en goed gevleis en moet goed by die kruis aansluit. Die ribbes goed gewelf en die lyf diep.
Agterkwart
Die heupe breed, kruis so reguit moontlik, boude goed gevleis en vol tussen die agterbene, met sterk ontwikkelde skenkels.
6. Bene
Die skaap moet vierkantig op sy bene staan. Die bene moet droog, plat en dik wees. Vet lokalisasie op bene is ’n prul. Die voorbene moet goed gevleisde en ontwikkelde voorarms hê; moet wyd en regaf staan met sterk kootgewrigte. Die agterbene moet goed gevleisde en ontwikkelde skenkels hê, sterk hakke en sterk kote. Daar moet gewaak word teen lang kootgewrigte. Die kloutjies moet amberkleurig wees. Swart strepies in kloutjies is ’n prul. Punte wat vir bene toegeken word, is uit 5 en sal volgens verdienste toegeken word.
Algemene Voorkoms
Die verskillende dele moet simmetries bymekaar pas om ‘n goeie gebalanseerde geheel te vorm. Oormatige lokalisering van vet agter of voor bors en ribbes is ’n prul. Elke geslag moet die tekens of kenmerke van hul geslag duidelik beklemtoon. Geslagsorgane, waar sigbaar, moet goed ontwikkeld wees sonder enige defektiewe eienskappe. Enige abnormale afwyking by die teel orgaan is ‘n prul, dit sluit in ‘n split van langer as 1cm in die teelsak of draaisakke. ‘n Testis omtrek van kleiner as 30cm is ‘n prul. Vet lokalisasie moet slegs op die kruis of op ander dele, soos deur die ras standaarde vereis, voorkom.
7. Grootte en Gewig
Skape behoort nie te groot of te klein vir hul ouderdomme te wees nie. Die punte wat vir grootte toegeken word is uit vyf, en sal volgens verdienste toegeken word.
8. Tipe
Tipe word bepaal deur die samevatting van voorgenoemde eienskappe, die balans daartussen en die mate waarin die individu aan die wenslike ras standaarde voldoen. Die punte wat vir tipe toegeken word is uit vyf, en sal volgens verdienste toegeken word.
9. Vereistes vir Tipe 5
- Pigment ‘n punt van 3
- Haarbedekking ‘n punt van 5
- Stert ‘n punt van 5
- Kop en Nek ‘n punt van 5
- Bouvorm ‘n punt van 5
- Bene ‘n punt van 5
- Grootte en Gewig ‘n punt van 5
- Tipe ‘n punt van 5
10. Vereistes vir Stoet
- Voorlopig word pigment nog nie as ’n vereiste van stoet verlang nie, is tog wenslik.
- Haarbedekking ’n punt van 4
- Stert ’n punt van 4
- Kop en Nek ’n punt van 4
- Bouvorm ’n punt van 4
- Bene ’n punt van 4
- Grootte en Gewig ’n punt van 4
- Tipe ’n punt van 4
11. Aanbevelings deur die Komitee
- Pigment – ‘n Blou of wit oog is ontoelaatbaar en moet as ‘n prul beskou word.
- Haarbedekking – Ligte maanhare is ’n prul. Rooi en blou kolle op rand van ore word nie toegelaat nie en is ’n prul.
- Kop en Nek – Vaste horingbasis is ’n prul. Te kort nek is ’n prul. Belle by keel is ’n prul.
- Bene – Vet lokalisering op bene is ’n prul. Oormatige lokalisering van vet agter of voor bors en ribbes is ’n prul.
- Geslagsorgane – Enige abnormale afwykings by die teelorgaan is ’n prul, dit sluit in ’n split langer as 1cm in die teelsak en draaisakke. ‘n Testis omtrek van kleiner as 30cm is ’n prul.
- Kloue – Swart streep in klou is ’n prul.